Selfoonfoto’s van ’n luiperd langs ’n plaaspad in die Agulhasplein een skemeraand in Augustus het opspraak gemaak in ons streek. Die foto’s wys ’n enkel luiperd wat anderkant ’n draad sit, hoewel die fotograaf eintlik twee luiperds in die verbyry gesien het.

Hierdie foto’s is sedertdien wyd gedeel – met sommige wat beweer dat luiperd getalle aan’t toeneem is in die streek.

Die foto’s is baie naby aan die Nuwejaars-vleilande se spesiale bestuursgebied (NWSMA) geneem. 

’n Onlangse studie deur die Cape Leopard Trust (CLT), in samewerking met vennote soos die NWSMA, het probeer beraam hoeveel luiperds in die NWSMA en regoor die Overberg voorkom.

Luiperds is uiters skaars hier

Ross Kettles, operasionele bestuurder van die NWSMA, sê: “Ondanks hierdie fantastiese waarneming deur boer Trevor October, is luiperds uiters skaars hier. Dis so ’n voorreg om, soos Trevor, ’n luiperd te sien, maar dit is regtig nie algemeen nie – veral nie gedurende dagligure nie.”

Slegs 24 volwasse luiperds oor die Overberg gevind

Dr. Katy Williams, die CLT se direkteur vir navorsing en bewaring, wat ook die studie in die Overberg gelei het, sê dat daar oor die verloop van die vyf-maande-lange studie oor die hele Overberg luiperds by 50 uit die 86 kamera stasies opgeteken is – ‘n sukseskoers van 58%. “Teen die einde van die studie het ons 24 volwasse mannetjie en wyfie luiperds en 7 jongelinge geïdentifiseer. Dit is duidelik dat luiperd populasie digtheid in die Overberg eintlik nogal laag is in vergelyking met die Boland en Sederberg.” 

Luiperds wêreldwyd word as Kwesbaar gelys. Alle luiperds in Afrika behoort tot dieselfde subspesie, maar luiperds in die Kaap verskil redelik van dié in die savanna streke. Katy sê: “Hulle is veel kleiner. Trouens, ’n luiperdmannetjie in die Kaap weeg gemiddeld net rondom 35kg, teenoor ’n luiperdmannetjie in die savanna wat gemiddeld 61kg weeg.” Hulle het ook besonder groot tuisgebiede en kom voor teen ’n veel laer populasie digtheid.

Om vir duisende jare naas luiperds te leef

Ross sê: “Hierdie diere is die laaste top roofdiere in die Kaap. Hulle lewe al vir honderde duisende jare heimlik in die fynbos rondom ons. Maar omdat hulle naglewend is, en ook omdat hulle getalle so laag is, sien  mens hulle eenvoudig nie gereeld nie. Daar is geen rede om bekommerd te wees as jy ’n luiperd in die Overberg sien nie, aangesien hulle feitlik altyd sal weghardloop.”

Die oorsake van hul lae getalle sluit in habitatsverlies, ’n afname in beskikbare prooi, konflik met veeboere en onwettige jag met strikke. Hul oorlewing as ’n spesie hier sal ook afhang van bewaringspogings soos dié in die NWSMA, of aksies wat deur die CLT gedryf word. “Hierdie diere benodig veilige korridors om oor die landskap te beweeg, ten einde te kan oorleef. Dit is hoekom ons werk om hul habitat te beskerm, en met vennote in dié gebied saamwerk, sodat luiperds kan voortgaan om veilig en stilweg hier rond te beweeg, soos hulle nog altyd deur die eeue gemaak het,” sê Ross.

Wat om te doen as jy ’n luiperd in die Overberg sien

 

  • Geniet die oomblik. Jy is een van ’n handjievol mense wat ooit hierdie besonderse dier sal waarneem.
  • Neem ’n foto as jy kan. Laai die foto’s, en ’n plekspeld (location pin), op die CLT se aanlyn luiperd-databasis by app.capeleopard.org.za
  • Moenie kommer nie. Alhoewel ’n mens vanselfsprekend altyd versigtig moet wees as jy roofdiere teëkom, is luiperds in die Kaapse gebergtes oor die algemeen uiters menssku en hulle sal gou vlug – behalwe wanneer hulle bedreig of vasgekeer voel. As jy ’n luiperd te voet teëkom, is die beste reaksie om kalm te bly, baie stil te staan en te wag tot die kat aanbeweeg. Moenie weghardloop of hurk nie. Indien die luiperd om een of ander rede nie weg beweeg nie en dreigend voorkom, beweeg stadig terug sonder om jou rug te draai. Hierdie soort antagonistiese gedrag is meestal ’n teken dat die luiperd graag wil hê jy moet padgee (dit is dalk ’n wyfie met welpies in die omgewing), so moenie talm en die kat uitdaag nie. Moenie stokke of klippe gooi nie, tensy as ’n laaste poging tot selfverdediging, want sulke optrede kan op sigself ’n aanval uitlok.
  • Probeer hierdie diere beskerm. As daar luiperds in die area is, wees op die uitkyk vir enige bedreigings, soos onwettige draadstrikke.